Wednesday, May 25, 2011

Tekens van die Tye: "Die Liefde Van Die Meeste Sal Verkoel"

Dit is die woorde van die Here Jesus opgeteken in Mattheus 24:12 waar Hy oor die tye kort voor Sy wederkoms praat. Die ongeregtigheid of sonde of verkeerdheid van mense en nasies sal skerp toeneem kort voor die wederkoms.

Paulus het dit ook aan Timotheus geskrywe in 2 Tim 3, maar vermaan hom in vers 10-17 om nie in sy liefde tot God en sy naaste te verflou nie. Hy moet ook bly vashou aan die Skrif (Bybel) se getuienis en dit gebruik om ander te leer, te vermaan en om dwalinge te weerlê.

Sorg dat jou liefde nie verkoel nie! Wat sal ons die Meester antwoord as Hy vra of ons Hom regtig liefhet? 1 Johannes 5:3 "Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Streef na die uitlewing van die gebooie in die bergpredikasie as die hoogste vorm van liefde tot jou naaste. Mattheus 5:44 "Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg .."

Of het ons liefde verkoel tot op die vlak van die tollenaars van destyds? vers 46-48 "Want as julle liefhet (net) die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is."

No comments:

Post a Comment