Friday, June 17, 2011

Is Jy 'n Ware Gelowige?

Daar is deesdae baie gelowiges binne en buite die kerk, maar hulle lyk soms so verskillend in hul sienings oor fundamentele sake wat vir eeue lank as Bybelse waarhede gehou is, bv. dat homoseksualiteit en dobbel sonde is. Dit het vandag al selfs populêr begin word om anders as die Bybel oor die sake te dink, en groot Godsmanne van die verlede wat al in herlewings was en deur God kragtig gebruik is, se Bybelse lering en waarskuwings hieroor word as outyds en belaglik afgemaak.

In Hebreërs 11 kry ons 'n kykie na wat 'n ware geloof is:
  • Dit neem waarskuwings ernstig op: v7 "Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ’n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is." 
  • Dit gehoorsaam God se bevele: v8 "Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom."
En nou die waarskuwing in Jakobus 4:4
"Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God."

'n Christen wat begin om teen die oorgelewerde waarhede van die Bybel in te praat, soos om homoseksualiteit goed te keur, is inderdaad 'n vriend van die wêreld en het van hom- of haarself 'n vyand van God gemaak.

Ook in Hebreërs 10:29-31 "hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God."

En die toets of ons God regtig liefhet in 1 Johannes 5:3:
"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Is jy 'n vriend van die wêreld of 'n vriend van God ? 
Jesus het die vraag self beantwoord in Johannes 15:14 "Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel." Moenie uself bluf nie.

Kind van God, het jy Hom regtig lief ?
Is jy 'n ware gelowige ? 
Dan sal u die waarskuwings en voorskrifte van die Bybel ernstig opneem en daarvolgens probeer lewe, maar eers moet u seker wees u is gered en wedergebore, anders sal u dit nooit regkry nie. Later meer hieroor.