Thursday, May 26, 2011

Die Bergpredikasie en Selfverdediging ?

Vir die opregte Christen is daar 'n skynbare teenstelling tussen een van die uitsprake in wat die bergpredikasie van ons verwag, en wat ons gesonde verstand vir ons sê. Neem bv. Mattheus 5:39, "Maar Ek sê vir julle dat julle 'n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe." My gesonde verstand sê vir my dat as ek hierdie uitspraak van Jesus ongekwalifiseerd toepas, ek miskien vir dood of vermink gelaat kan word deur 'n slegte mens, of my medemens, en dit kan tog nie.

Om hierdie saak beter te verstaan moet ons ook kyk na Jesus se woorde aan sy dissipels, die apostels, in Lukas 22:35-38, in die gedeelte oor die twee swaarde. Jesus het aan hulle gevra of hulle ooit iets kortgekom het in die vorm van klere, geld of skoene toe Hy hulle uitgestuur het, en hulle antwoord was nee. Jesus sê toe verder aan hulle dat van nou af moet hulle hierdie items aanskaf as hulle dit nodig het, en ook 'n swaard, want Hy gaan nie meer lank liggaamlik met hulle wees nie. Ja, die feit dat Petrus selfs 'n swaard gedra het en dit gebruik het tydens Jesus se gevangenisneming en Malchus se oor afgekap het, dui aan dat Petrus of voorheen al 'n swaard gedra het om hulle teen rowers te beskerm, of een daarna aangeskaf het. Jesus het die gebruik van die swaard in daardie oomblik natuurlik veroordeel, want Hy moes toelaat dat hulle hom gevange neem om aan die kruis te gaan betaal vir ons sondes. Ons hoef natuurlik nie meer vandag te gaan sterf vir ons eie of ander se sondes nie.

In die lig van hierdie getuienis moet ons aanvaar dat Jesus nie van ons verwag om ons lewe oor te gee in die hande van misdadigers sonder om onsself te verdedig nie. Ons lewens is kosbaar in die oë van God, en daarom moet ons dit verdedig en nie mislei word deur die mensemoordenaar, dit is Satan, om ons ongekwalifiseerd oor te gee aan die dade van slegte mense nie.

Ek glo dat die slaan op die wang in wese dui op die reaksie van die wêreld op ons Christelike lewenswandel en getuienis (soos die uitruk van die oog in vers 29 ook tog nie letterlik verstaan behoort te word nie), en dan moet ons nie vloek of terugbaklei nie, maar ook die ander wang draai, soos Christus ons geleer het, en dit verdra soos Jesus vir ons die voorbeeld gestel het: Hebreërs 12:3 "Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie."

Wednesday, May 25, 2011

Tekens van die Tye: "Die Liefde Van Die Meeste Sal Verkoel"

Dit is die woorde van die Here Jesus opgeteken in Mattheus 24:12 waar Hy oor die tye kort voor Sy wederkoms praat. Die ongeregtigheid of sonde of verkeerdheid van mense en nasies sal skerp toeneem kort voor die wederkoms.

Paulus het dit ook aan Timotheus geskrywe in 2 Tim 3, maar vermaan hom in vers 10-17 om nie in sy liefde tot God en sy naaste te verflou nie. Hy moet ook bly vashou aan die Skrif (Bybel) se getuienis en dit gebruik om ander te leer, te vermaan en om dwalinge te weerlê.

Sorg dat jou liefde nie verkoel nie! Wat sal ons die Meester antwoord as Hy vra of ons Hom regtig liefhet? 1 Johannes 5:3 "Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Streef na die uitlewing van die gebooie in die bergpredikasie as die hoogste vorm van liefde tot jou naaste. Mattheus 5:44 "Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg .."

Of het ons liefde verkoel tot op die vlak van die tollenaars van destyds? vers 46-48 "Want as julle liefhet (net) die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is."