U ken seker hierdie uitdrukking wat sommige mense deesdae soos die raskaart uitpluk en gebruik as iemand die sondes van hierdie tyd op die naam probeer noem, soos homoseksualisme, liefdeloosheid en loterye. Hierdie woorde is deur Jesus Christus ge-uiter in Mattheus 7:1 "Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie". Dit het te doen met die hovaardige houding om ander se sondes op 'n liefdelose manier te benader, asof onsself nie ook deur die sonde beinvloed word nie. Dit is sekerlik 'n groot rede waarom mense so vinnig u mag nie oordeel nie uitroep! Hulle kan die liefdeloosheid in die stem en houding van die persoon vinnig opmerk. Ongelukkig trap sommiges in die strik om soos die duiwel van ouds die Here se eie woorde te gebruik om hulle saak en agenda te bevorder. Het die duiwel nie gesê: "As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie." ? Matt 4:6, waarop Jesus hom met dieselfde Skrif terug-geantwoord het in vers 7 en hom op sy dwaling en listigheid gewys het: "Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie."
Ja, ons mag nie die oordeel uitspreek oor 'n arme sondaar nie. Ons het nie in daardie persoon se skoene gestaan nie en weet nie waardeur hulle gegaan het nie. Jesus self het vir die vrou wat op owerspel betrap is gevra: "En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie." Joh 8:10-11.
Maar ons mag mekaar waarsku wanneer dit dringend noodsaaklik geword het dat God ons kan en sal oordeel, eendag in die oordeelsdag en soms ook nou en hier nog op die aarde, as onsself nie ondersoek nie, ja ons lewens, dade en wandel meet aan die voorskrifte en gebooie van die Bybel nie. Dit is nie om te oordeel nie, maar om te waarsku, te vermaan. 1 Kor 11:31-32 "Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie." Daar staan immers geskrywe in Heb 3:13 "Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie."
Maak dus seker van u gesindheid as u 'n saak of 'n persoon be-oordeel. Is dit om uself beter te laat lyk, dan het u waarskynlik ge-oordeel soos wat ons nie mag nie. As dit is om te waarsku, te vermaan, te keer, te red, te behou, uit liefde, dan kan u u hart gerusstel voor die Here en u nie laat afskrik deur die teestanders van die waarheid nie. Dit lyk asof die ou spreekwoord: "He(t) lief en sê wat jy wil" tog waar is. Miskien is dit hoekom ons so min geglo word, omdat ons gesindheid is om te verstrooi, instede daarvan om te probeer red. Matt 12:30 "Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi."
No comments:
Post a Comment