Miskien klink die titel vir u bekend, veral onder die ouer geslag. Maar is dit regtig so? Sal iemand wat eenmaal gered is kan volhard om aan te hou glo in Jesus se soenverdienste aan die kruis, en om 'n lewe van heiligmaking na te streef, want sonder heiligmaking sal ons die Here nie sien nie ( nie in die koninkryk ingaan nie ). Om dit padlangs te stel: Kan 'n kind van God die ewige lewe verloor; dws. weer verlore gaan ?
Kom ons begin deur te kyk na sekere uitsprake in die Bybel wat die saak bevestig. Daarna sal ons kyk na ander uitsprake in die Bybel wat die teendeel bely. En dan sal ons die Skrif met mekaar vergelyk en probeer sin maak uit hierdie skynbare teenstrydighede. Daar is letterlik honderde verse oor hierdie onderwerp. Ek het slegs 'n paar woorde soos "gered, oordeel, verlore" opgesoek in die aanlyn-Bybel en op tientalle verse afgekom.
Verse wat die sekerheid van ons redding of verlossing bevestig
Johannes 10:28 "Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie."
1 Petrus 1:17 "want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit
onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly."
1 Johannes 5:12,13 "Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God,
sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam
van die Seun van God. "
Verse wat die sekerheid van ons redding in twyfel trek
Eerstens is daar verse wat in verband met die uitverkiesing staan wat die indruk skep dat ons niks aan ons ewige bestemming kan doen nie, want as jy nie uitverkies is nie, dan kan jy jou nie bekeer en gered word nie.
Mattheus 22:12-14 "En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom
sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die
koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg
en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en
gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min uitverkies."
Johannes 17:12 "Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar.
Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het
verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif
vervul sou word."
Lukas 8:12 "Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die
woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie."
Dit lyk vervolgens hier selfs ook asof sommige uitverkorenes ook in gevaar sal wees om verlore te gaan, en daarom sal God die tyd van die groot verdrukking in die laaste dae verkort.
Mattheus 24:21,22 "Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die
wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie;
maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word."
En dan is daar verse wat die indruk skep dat die mens self moet meewerk aan sy finale reddding.
Mattheus 10:22 "En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my
Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word."
Mattheus
24:12,13 "En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde
van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal
gered word."
Lukas 13:23,24 "Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.
Dan is daar verse wat dit laat blyk hoe amper 'n mens weer kon verlore gaan.
1 Korintiers 3:15 "as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly;
alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen."
1 Petrus 4:18 "En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?"
En dan is daar die waarskuwende verse.
1 Petrus 4:17,18 "Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En
as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die
evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?"
Judas 1:5 "Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat
die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat
ongelowig was, omgebring het."
1 Korinthiers 15:2 "waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse
waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo
het."
Lukas 19:22 "Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy
het geweet dat ek ’n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het
nie, en maai wat ek nie gesaai het nie." Matt 25:30 "En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande."
Hebreers 3:12-14 "Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose
en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat
niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou;"
Hebreers 12:15,28,29 "Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar
wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil,
want ons God is 'n verterende vuur."
Romeine 11:20-22 "Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God:
gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy
in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word."
Verduideliking
Eerstens moet ons verstaan en bely dat die saligmakende geloof die verskil maak tussen 'n ware gelowige (gered) en 'n skyn-gelowige (nog verlore). Die saligmakende geloof is nie almal se deel nie. Net die wat waarlik die vereistes nakom en die kenmerke vertoon van hierdie saligmakende geloof is waarlik gered. Die vereistes is natuurlik om in die Here Jesus Christus te glo en Hom aan te neem vir wat Hy vir jou gedoen het aan die kruis van Golgota, naamlik om in jou plek vir jou sondes te sterf:
Handelinge 16:31 "Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word"
Romeine 10:9-10 "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding."
Dit gaan gewoonlik gepaard met die eerste kenmerk naamlik 'n oortuiging van sonde:
2 Korintiers 7:10 "want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding
lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring
droefheid uit wêreldse oorwegings die dood."
Sien u onmiddellik die skyn-geloof teenoor die ware geloof ? Om bedroef te wees oor die gevolge van jou sonde, maar jou nie daarvan hartgrondig te bekeer nie, lei nie tot redding nie.
Die tweede kenmerk is dan 'n lewe wat bewys jy het waarlik tot bekering gekom, dws. tot jouself, jou sinne te kom. Om te gaan stilstaan en jou sonde te bely en dit te laat staan. 'n Opregte voorneme om dit te laat staan en anders te lewe nou onder beheer van die Here se Gees. Jesus self het baie ernstig gewaarsku teen 'n lewe wat nie verander het nie:
Mattheus 3:7-8 "Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom,
sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die
toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas."
'n Derde kenmerk is om die pad van heiligmaking te stap wat die wil van God vir ons lewe is.
1 Thess 4:3 "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking;"
1 Thess 4:7,8 "God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie,
hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het."
So kan ons voortgaan om nog kenmerke uit die Skrif te versamel wat 'n ware gelowige van 'n skyn-gelowige onderskei, alhoewel ons dit nie tot 'n algemene reël kan verhef nie, want net God ken uiteindelik 'n mens se hart.
1 Konings 8:29 "wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en
aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken
die hart van al die mensekinders"
Ons mag ook nie oordeel oor mense se saligheid as dit op randsake aankom nie, want wie is ons om te oordeel oor God se diensknegte?
Romeine 14:4 "Wie is jy wat die huiskneg van ’n ander oordeel? Hy staan of val met
betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig
om hom staande te hou."
Selfs Paulus het te doen gekry met kerkmense wat skynbaar getwyfel het aan sy redding, miskien agv sy verlede in dat hy die kerk vervolg het:
2 Korintiers 10:7 "Kyk julle na wat voor oë is? As iemand by homself vertrou dat hy aan
Christus behoort, laat hy dit by homself weer oorweeg, dat net soos hy
self aan Christus behoort, ons ook so aan Christus behoort;"
Slot-opmerkings
Dit wil vir my voorkom asof ons saligheid (sekerheid van redding), baie veilig is solank ons in Jesus bly. Die oomblik wat ons Hom nie meer dien nie, nie meer in Hom glo nie, Sy gebooie nie meer gehoorsaam nie, beweeg ons op 'n pad weg van God af. Jesus het dit self bevestig met die volgende woorde:
Johannes 15:2,4,6 "Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat
vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte
dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle
nie in My bly nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy
verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en
dit verbrand."
Die ware geloof is lewendig. Dit loop uit op werke. 'n Geloof wat doodgaan omdat dit nie vrugte (werke) dra nie, was na alle waarskynlikheid 'n skyngeloof van die begin af.
'n Ware kind van God het die getuienis van sy redding in sy eie hart:
Romeine 8:18 "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"
Dit lyk dus asof 'n gelowige weer verlore kan gaan, maar nie sover dit God aangaan nie. Van God se kant is die saak seker. Jesus kan ons volledig red:
Hebreers 7:25" Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree."
en sal die werk wat Hy in ons begin het voltooi:
1 Thess 5:23-24 "En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag
julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by
die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen."
maar ons moet seker maak ons is waarlik gered:
2 Korintiers 13:5 "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die
geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is
nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie."
en die voorskrifte van God nakom en Hom dien uit dankbaarheid vir so 'n groot verlossing.
Wie nie die kenmerke van 'n ware geloof in sy lewe sien nie, moet ernstig moeite maak om die Here weer heelhartig aan te neem en hom te bekeer. Wie die kenmerke sien maar twyfel, moet sy ongeloof bely en ernstig daarna streef om tot die volle sekerheid van die hoop te kom.
Romeine 8:24 "Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?"
No comments:
Post a Comment