Tuesday, October 2, 2012

Eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God ?

Miskien klink die titel vir u bekend, veral onder die ouer geslag. Maar is dit regtig so? Sal iemand wat eenmaal gered is kan volhard om aan te hou glo in Jesus se soenverdienste aan die kruis, en om 'n lewe van heiligmaking na te streef, want sonder heiligmaking sal ons die Here nie sien nie ( nie in die koninkryk ingaan nie ). Om dit padlangs te stel: Kan 'n kind van God die ewige lewe verloor; dws. weer verlore gaan ?

Kom ons begin deur te kyk na sekere uitsprake in die Bybel wat die saak bevestig. Daarna sal ons kyk na ander uitsprake in die Bybel wat die teendeel bely. En dan sal ons die Skrif met mekaar vergelyk en probeer sin maak uit hierdie skynbare teenstrydighede. Daar is letterlik honderde verse oor hierdie onderwerp. Ek het slegs 'n paar woorde soos "gered, oordeel, verlore" opgesoek in die aanlyn-Bybel en op tientalle verse afgekom.

Verse wat die sekerheid van ons redding of verlossing bevestig

Johannes 10:28 "Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie."

1 Petrus 1:17 "want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly."

1 Johannes 5:12,13 "Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God. "

Verse wat die sekerheid van ons redding in twyfel trek

Eerstens is daar verse wat in verband met die uitverkiesing staan wat die indruk skep dat ons niks aan ons ewige bestemming kan doen nie, want as jy nie uitverkies is nie, dan kan jy jou nie bekeer en gered word nie.


Mattheus 22:12-14 "En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min uitverkies."


Johannes 17:12 "Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word." 

Lukas 8:12 "Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie."

Dit lyk vervolgens hier selfs ook asof sommige uitverkorenes ook in gevaar sal wees om verlore te gaan, en daarom sal God die tyd van die groot verdrukking in die laaste dae verkort.


Mattheus 24:21,22 "Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word."

En dan is daar verse wat die indruk skep dat die mens self moet meewerk aan sy finale reddding.

Mattheus 10:22 "En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word."

Mattheus 24:12,13 "En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word."

Lukas 13:23,24 "Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.

Dan is daar verse wat dit laat blyk hoe amper 'n mens weer kon verlore gaan.

1 Korintiers 3:15 "as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen." 

1  Petrus 4:18 "En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?" 

En dan is daar die waarskuwende verse.

1 Petrus 4:17,18 "Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?"

Judas 1:5 "Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het." 
 
1 Korinthiers 15:2 "waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het." 

Lukas 19:22 "Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ’n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie." Matt 25:30 "En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande." 

Hebreers 3:12-14 "Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou;"

Hebreers 12:15,28,29 "Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is 'n verterende vuur."

Romeine 11:20-22 "Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word."


Verduideliking

Eerstens moet ons verstaan en bely dat die saligmakende geloof die verskil maak tussen 'n ware gelowige (gered) en 'n skyn-gelowige (nog verlore). Die saligmakende geloof is nie almal se deel nie. Net die wat waarlik die vereistes nakom en die kenmerke vertoon van hierdie saligmakende geloof is waarlik gered. Die vereistes is natuurlik om in die Here Jesus Christus te glo en Hom aan te neem vir wat Hy vir jou gedoen het aan die kruis van Golgota, naamlik om in jou plek vir jou sondes te sterf:

Handelinge 16:31 "Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word"

Romeine 10:9-10 "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;  want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding."


Dit gaan gewoonlik gepaard met die eerste kenmerk naamlik 'n oortuiging van sonde:

2 Korintiers 7:10 "want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood."

Sien u onmiddellik die skyn-geloof teenoor die ware geloof ? Om bedroef te wees oor die gevolge van jou sonde, maar jou nie daarvan hartgrondig te bekeer nie, lei nie tot redding nie.

Die tweede kenmerk is dan 'n lewe wat bewys jy het waarlik tot bekering gekom, dws. tot jouself, jou sinne te kom. Om te gaan stilstaan en jou sonde te bely en dit te laat staan. 'n Opregte voorneme om dit te laat staan en anders te lewe nou onder beheer van die Here se Gees. Jesus self het baie ernstig gewaarsku teen 'n lewe wat nie verander het nie:

Mattheus 3:7-8 "Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas."

'n Derde kenmerk is om die pad van heiligmaking te stap wat die wil van God vir ons lewe is.

1 Thess 4:3 "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking;"

1 Thess 4:7,8 "God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het."

So kan ons voortgaan om nog kenmerke uit die Skrif te versamel wat 'n ware gelowige van 'n skyn-gelowige onderskei, alhoewel ons dit nie tot 'n algemene reël kan verhef nie, want net God ken uiteindelik 'n mens se hart.

1 Konings 8:29 "wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders"

Ons mag ook nie oordeel oor mense se saligheid as dit op randsake aankom nie, want wie is ons om te oordeel oor God se diensknegte?

Romeine 14:4 "Wie is jy wat die huiskneg van ’n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou."

Selfs Paulus het te doen gekry met kerkmense wat skynbaar getwyfel het aan sy redding, miskien agv sy verlede in dat hy die kerk vervolg het:

2 Korintiers 10:7 "Kyk julle na wat voor oë is? As iemand by homself vertrou dat hy aan Christus behoort, laat hy dit by homself weer oorweeg, dat net soos hy self aan Christus behoort, ons ook so aan Christus behoort;"


Slot-opmerkings

Dit wil vir my voorkom asof ons saligheid (sekerheid van redding), baie veilig is solank ons in Jesus bly. Die oomblik wat ons Hom nie meer dien nie, nie meer in Hom glo nie, Sy gebooie nie meer gehoorsaam nie, beweeg ons op 'n pad weg van God af. Jesus het dit self bevestig met die volgende woorde:


Johannes 15:2,4,6 "Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.  Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand."

Die ware geloof is lewendig. Dit loop uit op werke. 'n Geloof wat doodgaan omdat dit nie vrugte (werke) dra nie, was na alle waarskynlikheid 'n skyngeloof van die begin af.

'n Ware kind van God het die getuienis van sy redding in sy eie hart:

Romeine 8:18 "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"

Dit lyk dus asof 'n gelowige weer verlore kan gaan, maar nie sover dit God aangaan nie. Van God se kant is die saak seker. Jesus kan ons volledig red:

Hebreers 7:25" Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree."  

en sal die werk wat Hy in ons begin het voltooi:

1 Thess 5:23-24 "En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen."

maar ons moet seker maak ons is waarlik gered:

2 Korintiers 13:5 "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie."

en die voorskrifte van God nakom en Hom dien uit dankbaarheid vir so 'n groot verlossing.

Wie nie die kenmerke van 'n ware geloof in sy lewe sien nie, moet ernstig moeite maak om die Here weer heelhartig aan te neem en hom te bekeer. Wie die kenmerke sien maar twyfel, moet sy ongeloof bely en ernstig daarna streef om tot die volle sekerheid van die hoop te kom.

Romeine 8:24 "Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?"

Monday, August 1, 2011

Ons Mag nie Oordeel nie!

U ken seker hierdie uitdrukking wat sommige mense deesdae soos die raskaart uitpluk en gebruik as iemand die sondes van hierdie tyd op die naam probeer noem, soos homoseksualisme, liefdeloosheid en loterye. Hierdie woorde is deur Jesus Christus ge-uiter in Mattheus 7:1 "Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie". Dit het te doen met die hovaardige houding om ander se sondes op 'n liefdelose manier te benader, asof onsself nie ook deur die sonde beinvloed word nie. Dit is sekerlik 'n groot rede waarom mense so vinnig u mag nie oordeel nie uitroep! Hulle kan die liefdeloosheid in die stem en houding van die persoon vinnig opmerk. Ongelukkig trap sommiges in die strik om soos die duiwel van ouds die Here se eie woorde te gebruik om hulle saak en agenda te bevorder. Het die duiwel nie gesê: "As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie." ? Matt 4:6, waarop Jesus hom met dieselfde Skrif terug-geantwoord het in vers 7 en hom op sy dwaling en listigheid gewys het: "Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie."

Ja, ons mag nie die oordeel uitspreek oor 'n arme sondaar nie. Ons het nie in daardie persoon se skoene gestaan nie en weet nie waardeur hulle gegaan het nie. Jesus self het vir die vrou wat op owerspel betrap is gevra: "En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie." Joh 8:10-11.

Maar ons mag mekaar waarsku wanneer dit dringend noodsaaklik geword het dat God ons kan en sal oordeel, eendag in die oordeelsdag en soms ook nou en hier nog op die aarde, as onsself nie ondersoek nie, ja ons lewens, dade en wandel meet aan die voorskrifte en gebooie van die Bybel nie. Dit is nie om te oordeel nie, maar om te waarsku, te vermaan. 1 Kor 11:31-32 "Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie." Daar staan immers geskrywe in Heb 3:13 "Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie."

Maak dus seker van u gesindheid as u 'n saak of 'n persoon be-oordeel. Is dit om uself beter te laat lyk, dan het u waarskynlik ge-oordeel soos wat ons nie mag nie. As dit is om te waarsku, te vermaan, te keer, te red, te behou, uit liefde, dan kan u u hart gerusstel voor die Here en u nie laat afskrik deur die teestanders van die waarheid nie. Dit lyk asof die ou spreekwoord: "He(t) lief en sê wat jy wil" tog waar is. Miskien is dit hoekom ons so min geglo word, omdat ons gesindheid is om te verstrooi, instede daarvan om te probeer red. Matt 12:30 "Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi."

Friday, June 17, 2011

Is Jy 'n Ware Gelowige?

Daar is deesdae baie gelowiges binne en buite die kerk, maar hulle lyk soms so verskillend in hul sienings oor fundamentele sake wat vir eeue lank as Bybelse waarhede gehou is, bv. dat homoseksualiteit en dobbel sonde is. Dit het vandag al selfs populêr begin word om anders as die Bybel oor die sake te dink, en groot Godsmanne van die verlede wat al in herlewings was en deur God kragtig gebruik is, se Bybelse lering en waarskuwings hieroor word as outyds en belaglik afgemaak.

In Hebreërs 11 kry ons 'n kykie na wat 'n ware geloof is:
  • Dit neem waarskuwings ernstig op: v7 "Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ’n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is." 
  • Dit gehoorsaam God se bevele: v8 "Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom."
En nou die waarskuwing in Jakobus 4:4
"Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God."

'n Christen wat begin om teen die oorgelewerde waarhede van die Bybel in te praat, soos om homoseksualiteit goed te keur, is inderdaad 'n vriend van die wêreld en het van hom- of haarself 'n vyand van God gemaak.

Ook in Hebreërs 10:29-31 "hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God."

En die toets of ons God regtig liefhet in 1 Johannes 5:3:
"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Is jy 'n vriend van die wêreld of 'n vriend van God ? 
Jesus het die vraag self beantwoord in Johannes 15:14 "Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel." Moenie uself bluf nie.

Kind van God, het jy Hom regtig lief ?
Is jy 'n ware gelowige ? 
Dan sal u die waarskuwings en voorskrifte van die Bybel ernstig opneem en daarvolgens probeer lewe, maar eers moet u seker wees u is gered en wedergebore, anders sal u dit nooit regkry nie. Later meer hieroor.

Thursday, May 26, 2011

Die Bergpredikasie en Selfverdediging ?

Vir die opregte Christen is daar 'n skynbare teenstelling tussen een van die uitsprake in wat die bergpredikasie van ons verwag, en wat ons gesonde verstand vir ons sê. Neem bv. Mattheus 5:39, "Maar Ek sê vir julle dat julle 'n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe." My gesonde verstand sê vir my dat as ek hierdie uitspraak van Jesus ongekwalifiseerd toepas, ek miskien vir dood of vermink gelaat kan word deur 'n slegte mens, of my medemens, en dit kan tog nie.

Om hierdie saak beter te verstaan moet ons ook kyk na Jesus se woorde aan sy dissipels, die apostels, in Lukas 22:35-38, in die gedeelte oor die twee swaarde. Jesus het aan hulle gevra of hulle ooit iets kortgekom het in die vorm van klere, geld of skoene toe Hy hulle uitgestuur het, en hulle antwoord was nee. Jesus sê toe verder aan hulle dat van nou af moet hulle hierdie items aanskaf as hulle dit nodig het, en ook 'n swaard, want Hy gaan nie meer lank liggaamlik met hulle wees nie. Ja, die feit dat Petrus selfs 'n swaard gedra het en dit gebruik het tydens Jesus se gevangenisneming en Malchus se oor afgekap het, dui aan dat Petrus of voorheen al 'n swaard gedra het om hulle teen rowers te beskerm, of een daarna aangeskaf het. Jesus het die gebruik van die swaard in daardie oomblik natuurlik veroordeel, want Hy moes toelaat dat hulle hom gevange neem om aan die kruis te gaan betaal vir ons sondes. Ons hoef natuurlik nie meer vandag te gaan sterf vir ons eie of ander se sondes nie.

In die lig van hierdie getuienis moet ons aanvaar dat Jesus nie van ons verwag om ons lewe oor te gee in die hande van misdadigers sonder om onsself te verdedig nie. Ons lewens is kosbaar in die oë van God, en daarom moet ons dit verdedig en nie mislei word deur die mensemoordenaar, dit is Satan, om ons ongekwalifiseerd oor te gee aan die dade van slegte mense nie.

Ek glo dat die slaan op die wang in wese dui op die reaksie van die wêreld op ons Christelike lewenswandel en getuienis (soos die uitruk van die oog in vers 29 ook tog nie letterlik verstaan behoort te word nie), en dan moet ons nie vloek of terugbaklei nie, maar ook die ander wang draai, soos Christus ons geleer het, en dit verdra soos Jesus vir ons die voorbeeld gestel het: Hebreërs 12:3 "Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie."

Wednesday, May 25, 2011

Tekens van die Tye: "Die Liefde Van Die Meeste Sal Verkoel"

Dit is die woorde van die Here Jesus opgeteken in Mattheus 24:12 waar Hy oor die tye kort voor Sy wederkoms praat. Die ongeregtigheid of sonde of verkeerdheid van mense en nasies sal skerp toeneem kort voor die wederkoms.

Paulus het dit ook aan Timotheus geskrywe in 2 Tim 3, maar vermaan hom in vers 10-17 om nie in sy liefde tot God en sy naaste te verflou nie. Hy moet ook bly vashou aan die Skrif (Bybel) se getuienis en dit gebruik om ander te leer, te vermaan en om dwalinge te weerlê.

Sorg dat jou liefde nie verkoel nie! Wat sal ons die Meester antwoord as Hy vra of ons Hom regtig liefhet? 1 Johannes 5:3 "Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Streef na die uitlewing van die gebooie in die bergpredikasie as die hoogste vorm van liefde tot jou naaste. Mattheus 5:44 "Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg .."

Of het ons liefde verkoel tot op die vlak van die tollenaars van destyds? vers 46-48 "Want as julle liefhet (net) die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is."